Hoe kan jy geld maak uit 'n blog?

Wat as ek vir jou gesê het dat daar eintlik verskeie maniere is wat jy geld kan maak deur 'n webblad? Jy hoef nie 'n besigheidseienaar of entrepreneur te wees om geld te maak deur aanlyn produkte te verkoop nie, inteendeel, in ons moderne era is dit al hoe makliker vir gewone mense soos ek en jy om geld op die kantlyn te maak deur net gewoon ons passies met ander mense te deel.

Om 'n webblad om te skakel na 'n profyt-genererende sisteem is beslis nie maklik nie, maar met baie passie en 'n bietjie geluk kan enigiemand dit regkry. In hierdie artikel gaan ek verduidelik in die besonder hoe om geld te maak uit 'n blog.

Blog

'n Blog is 'n tipe webblad waar jy jou passies deur artikels en ander informele plasings met die wêreld deel. Die voordeel van 'n blog, is dat jy niks - buiten jou rekenaar en internet - nodig het om mee te begin nie. Buiten dat dit 'n uitstekende manier is om self te groei in jou passies en duisende mense wêreldwyd te bereik is dit ook 'n manier om 'n paar randjies op die kantlyn in te bring. Om geld te maak uit 'n blog is egter geen maklike saak nie, so moenie verwag om van die begin af elke maand duisende rande in te bring nie.

Die truuk om geld te maak uit 'n blog, is om eers 'n groot gehoor op te bou. Nadat jy 'n goeie gehoor bymekaargestel het, en mense het wat jou plasings lees en van jou skryfstyl hou, dan kan jy begin om op verskeie maniere geld uit die storie te maak. Die bekendste metode onder bloggers word Affiliasie Bemarking (Affiliate Marketing) genoem.

Affiliasie Bemarking

Die konsep van Affiliasie Bemarking is baie eenvoudig. Kom ons sê ek weet baie van messe af, en ek het 'n pragtige versameling van jagmesse, slagmesse, vegmesse, knipmesse en selfs kombuismess (nie eintlik nie ;-P). Nouja, dan is daar 'n vriend van my wat messe maak. Pragtige handgemaakte messe met die mooiste versierings op. Ek blog dalk al vir 'n paar maande en omdat ek so baie weet oor messe en my passie graag met my lesers deel, het ek al 'n paar duisend lesers. My vriend, die messemaker, kort egter 'n mark om sy messe aan te verkoop, so hy sê: Pietman vriend, kom ons maak so: Jy blog op jou webblad van my messe, en jy vertel vir almal hoe mooi die messe is. Jy kan foto's plaas ook. Dan beveel jy my messe aan, en jy kry 10% van al die messe wat verkoop word deur middel van jou blog. Is jy in?

Nouja, hierdie klink moeiliker as wat dit is. Ek meen, ek kan nie oor messe blog nie, en my vriend wat messe maak gaan nie my opinie van sy messe as aanbeveling waardeer nie. Maar in die werklikheid is dit baie eenvoudiger. Jy kan blog oor watookal jou passie is. Enige stokperdjie kan 'n blog word, en wanneer jy dan 'n goeie aantal lesers het, gaan kyk dan na opsies soos Click Bank om mee te begin.

Betaal Per Klik (Pay Per Click)

Wat hierdie metode so lekker maak, is dat dit baie effektief, en tog baie eenvoudig is. Onthou jy dat jy soms, wanneer jy op 'n webblad kom, Google advertensies sien? Nouja, die proses is redelik eenvoudig waarin enige blogger vir Google kan aanbied om hul advertensies te plaas. Google gee vir jou 'n stukkie kode wat jy op jou webblad plaas, wat Google gebruik om te identifiseer watter dinge jou webblad oor gaan, en dan plaas Google advertensies ooreenkomstig die tema wan jou webblad. Jy word dan betaal per klik op 'n advertensie wat kan wissel tussen R1 en R50.

Hoe om aansoek te doen?

Doen aansoek by Google Adsense. Google het 'n streng stel bepalings en voorwaardes, so maak seker jy voldoen daaraan.

Donasies

Jy sal verbaas wees hoeveel mense bereid is om maandelikse donasies te maak. As jy besig is om jou passie gratis met die wêreld te deel, dan is daar gereeld mense wat bereid is om jou geldelik te ondersteun. As jou lesers lief word vir jou as persoon, dan is dit nie moeilik vir hulle om maandeliks 'n ondersteunende bedrag te betaal om jou te help om aan te gaan met die blog nie. In ruil vir hierdie maandelikse donasies kan jy dan vir die donateurs spesiale voorregte gee, soos onderhoude, selfoon oproepe, artikels ens.

Die beste voorbeeld hiervan is Patreon.

Patreon stel jou - die blogger - in staat om 'n 'Patreon Page' te maak, waar lesers dan kan registreer as ondersteuners en dan elke maand 'n sekere bedrag betaal. As bedanking kan jy dan op die Patreonblad van tyd tot tyd spesiale materiaal plaas wat slegs die ondersteuners dan kan sien.

Jy kan egter ook die proses met PayFast doen.

PayFast is 'n metode om betalings in rande aan te neem, maar dit stel jou ook in staat om maandeliks-herhalende betalings van lesers of ondersteuners te ontvang. PayFast kan vanselfsprekend beter aangepas word vir jou benodighede.

Op watter manier jy ookal beplan om geld te maak uit jou blog, dit is belangrik om nie te blog vir die geld nie. Jou lesers lees jou plasings omdat hulle van jou as persoon hou, en omdat hulle jou passies deel. Jy gaan nie van die begin af 'n groot aangtal lesers besit nie, en daarom is dit belangrik om te blog vir die ander dinge wat jy daaruit kry. Vriendskap, vrede, berusting en nabetragting. Hierdie is die dinge wat jy vir die eerste tydperk uit die blog gaan kry. Dit mag dalk aan die begin lyk asof niemand belangstel in jou blog nie, maar hou vas aan hierdie dinge.

Vriendskap, vrede, berusting en nabetragting.