1. Besluit

Elke marathon begin met die eerste tree. Elke huis begin met die eerste steen. Elke idee begin by die besluit.

Besluit dat jy dit gaan doen. Besluit, want 'n ferme besluit is moeilik om te stuit.

Waarom is dit so belangrik om te besluit? Want dit is hoe ons brein werk.

Ons is geneig om maklik van plan te verander, iets anders te probeer of net pleinweg op te gee. Dit is deel van menswees, dit is deel van wat mense so uniek maak. In enige projek is dit egter nie juis 'n eienskap wat ons wil gebruik nie, so ons moet iets doen om te verhoed dat ons uitstel, verander of afstel.

Daar is verskeie maniere om te verhoed dat ons hierdie eienskap in 'n projek uitoefen, soos om dit saam met ander mense te doen, tyd vas te maak daarvoor ens. maar die sekerste manier om te verhoed dat ons van plan verander, is om die besluit vas en seker te maak. Ons moet eerlik met onsself wees. Sê vir iemand anders van jou besluit. Skryf dit neer. Deel dit op sosiale media. Jou besluit moet so vas en seker as moontlik wees!

2. Beplan

Mislukking in beplanning, is beplanning vir mislukking.

As jy nou die plan neergepen het, maak 'n tyd daarvoor. My tyd is elke aand van 8 tot 9. Dit is die tyd wat ek spandeer aan Toekomsweb. Hierdie tyd is ononderhandelbaar vas vir Toekomsweb.

Kry so 'n tyd vir jou projek. Dit mag dalk net 1 keer 'n week wees, dit is ook goed. Wat belangrik is, is dat jy 'n ononderhandelbare tyd vasmaak vir jou projek, wat jy dan voluit kan spandeer aan die projek. Hierdie is nie die enigste tyd wat jy mag spandeer aan die projek nie, maar hierdie is die enigste tyd wat jy nie mag spandeer aan enigiets anders nie.

As jy dan 'n sekere tyd vas het om op 'n gereelde basis te werk aan jou projek, stel dan 'n langtermyn doel. Kies een doel wat ononderhandelbaar bereik moet word.

Hierdie doel moet spesifiek wees. Maak dit so nou en duidelik as moontlik. "Ek wil 'n verskil maak." gaan glad nie die ding doen nie. Iets meer spesifieks soos: "Ek wil aan tieners God se woord bring." is baie beter.

Hierdie doel moet ook meetbaar wees. As ons die vorige stelling, "Ek wil aan tieners God se woord bring" vat, dan kan ons dit nog meer verbeter: "Ek wil aan minstens 10,000 tieners God se woord bring." Op die manier spesifiseer ons vir onsself hoeveel mense ons wil bereik.

Verder moet die doel ook bereikbaar wees. Een van my gunsteling slagspreuke is "Mik vir die sterre en weet verseker jy sal minstens tot by die maan kom.". Moet egter nie jou doel so stel dat jy dit nie kan bereik nie. Neem die tyd wat jy daaraan gaan spandeer ingedagte. Moenie te veel afbyt nie. Maak seker jy kan die pyp rook voor jy hom stop.

Laastens moet hierdie doel ook met 'n sperdatum kom. Voor wanneer wil jy dit bereik? Dit help nie ons stel die doel en vergeet dan daarvan nie. Hierdie is waarskynlik die belangrikste van die lot. Dit is volgens my ook een van die redes waarom Elon Musk so suksesvol is. Sy doele kom altyd met 'n sperdatum. Sy werknemers weet vir wanneer hulle werk. Hulle weet waar die doodloopstraat is.

3. Doen

Doen doen doen doen.

Jy kan hierdie maar op 'n papier neerskryf en op jou badkamerspieël plak! Doen dit. Die beste leermeester is ondervinding. Almal maak foute, moenie bang wees om te faal nie. Mislukking is die mis waardeur ons sukses sien.

Jy kan jare op universiteit spandeer, en alles leer oor die projek wat jy wil aanpak. Jy kan presies weet hoe om dit te doen, jy kan selfs jou besluit geneem het en jou plan opgestel het, maar as jy dit nie doen nie, dan is alles tevergeefs.

Sukses is 'n verstandelike kondisie, maar jy kan dit net bereik deur dit in die regte wêreld uit te leef. Leef jou besluit. Leef jou passie. Leef jou lewe!